Ons Storie

2021 – Die Eerste Ontmoeting

2021 het ons paaie vir die eerste keer gekruis deur ’n vriend wat besluit het om bietjie “matchmaker” te speel. Wat amper soos ’n blind date gevoel het, het plaasgevind by ’n kuierplek waar ons mekaar vir die eerste keer ontmoet het.

Om eerlik te wees, dit was nie juis liefde met die eerste oogopslag nie. My eerste indruk van Stef was glad nie wat ek verwag het nie – ek was oortuig dat hy ’n bietjie van ’n snob was en het selfs vir myself gesê dat ek nooit met iemand soos hy sou uitgaan nie! Ons ontmoeting was kortstondig, skaars tien minute lank, voordat ons elkeen ons eie pad gegaan het. Min het ons egter geweet dat hierdie vinnige ontmoeting die begin sou wees van ’n storie wat ons lewens vir altyd sou verander.

2022 – Waar Alles Regtig Begin

Het Teen die einde van Mei 2022 het ons paaie weer gekruis. Ek was saam met my vriende by Coobah terwyl Stef en sy vriende toevallig ook daar was. Ons het by dieselfde tafel gesit, en dit was daar waar hy besluit het om die eerste stap te neem.

Stef het na my toe gekom en my nommer gevra. Al was ek nogal verras, het ek dit vir hom gegee. Die volgende oggend het hy nie tyd gemors nie en my gevra of ek saam met hom op ’n "date" wil gaan – Top Gun-MAverick by die Ster-Kinekor.

Wat as ’n eenvoudige uitnodiging na ’n fliek begin het, het vinnig ontwikkel in ’n verhouding gevul met lag, vriendskap en liefde.

Ná ons eerste date het ons vir ongeveer ses maande uitgegaan en mekaar beter leer ken. Soos ons verhouding ontwikkel het, het ons egter besef dat ons op daardie stadium van ons lewens verskillende paaie gestap het. Met wedersydse respek en begrip het ons besluit dat dit die beste sou wees om eerder as vriende uitmekaar te gaan.

Ons het albei ons eie rigting gevolg, gefokus op persoonlike groei en die avonture wat daardie seisoen van ons lewens ingehou het. Al het ons paaie vir ’n tyd geskei, was dit alles deel van ’n groter plan wat ons toe nog nie kon sien nie.

Soms neem die lewe jou op ’n ompad, net om jou op die regte tyd weer terug te bring na waar jy hoort.

2023 – Die Pad Vind Ons Weer

Soms het die lewe ’n manier om twee mense weer na mekaar toe terug te lei wanneer die tyd reg is. In September 2023 het Stef weer uitgereik en gevra of ek saam met hom vir ’n koffie wil gaan. Na sy enkel operasie wou hy graag bietjie gesels en opvang oor alles wat in ons lewens gebeur het. Wat as ’n eenvoudige koffiedate begin het, het vinnig herinneringe teruggebring aan die vriendskap en verbintenis wat nog altyd tussen ons bestaan het.

Soos ons weer tyd saam deurgebring het, het ons besef dat ons nie meer dieselfde mense was as toe ons paaie voorheen geskei het nie. Ons het gegroei, geleer en nader aan God beweeg. Meer as ooit tevore het ons geweet dat ons mekaar in ons lewens wou hê.

Op 13 Oktober 2023 het Stef my amptelik gevra om sy meisie te wees. Hierdie keer was dit anders. Ons verhouding is gebou op ’n sterk fondament van geloof, vriendskap, respek en ’n gedeelde liefde vir Jesus. Van daardie dag af het ons saam begin bou aan die lewe waarvan ons albei gedroom het.

2024 – Die Jaar van Groei

2024 was die jaar waarin ons verhouding werklik begin blom het. Dit was ’n jaar van groei, nie net as individue nie, maar ook as ’n span. Saam het ons nuwe avonture aangepak, groot drome gedeel en begin bou aan die toekoms wat ons vir onsself sien. Deur elke uitdaging, oorwinning en alledaagse oomblik het ons liefde sterker geword. Ons het geleer hoe om mekaar te ondersteun, saam te lag, saam te droom en die lewe hand aan hand aan te pak.

Wat hierdie jaar besonders gemaak het, was die besef dat ons nie net verlief is nie, maar dat ons beste vriende geword het — twee mense wat doelbewus kies om elke dag saam te groei.

2024–2025 – Die Bou van Ons Toekoms

Die maande wat gevolg het, was gevul met onvergeetlike herinneringe, nuwe ervarings en groot mylpale. Ons het saam gedroom, saam beplan en selfs die opwindende reis aangepak om ons besighede en toekoms saam te bou.

Van spontane avonture tot stil oomblikke van dankbaarheid, elke ervaring het ons nader aan mekaar gebring. In hierdie tyd het ons nie net ’n lewe saam begin bou nie, maar ook ’n verhouding wat geanker is in geloof, vertroue, liefde en vriendskap.

Ons het ontdek dat die mooiste deel van enige avontuur nie die bestemming is nie, maar die persoon langs wie jy die reis aanpak.

2025 – Die Begin van Ons Vir Altyd

7 Junie 2025 het Stef die volgende groot vraag gevra , die een waarop ons liefdesverhaal nog altyd afgestuur het. Met ’n hart vol liefde en sekerheid het hy my gevra om met hom te trou, en natuurlik was my antwoord ja. Vandag staan ons op die vooraand van ons grootste avontuur nog. Terugkykend kan ons God se hand deur elke hoofstuk van ons verhaal sien -van ’n kort ontmoeting, na afsonderlike paaie, tot ’n tweede kans wat gelei het na ’n liefde sterker as wat ons ooit kon droom. Ons glo dat elke stap van die reis ons voorberei het vir hierdie oomblik, en ons sien met opgewondenheid uit na die lewe wat nog voorlê.

En nou begin ons gunsteling hoofstuk: ons vir altyd.

Designed by HDS